HEKS VAN DIE SAHARA
deur Meiring Fouche

OPSOMMING

In hierdie eerste verhaal van die Sahara Avontuur reeks, maak u onder andere kennis met Teuns Stegmann. Hy is ’n Suid-Afrikaner wat by die Frans Vreemdelegioen in die Sahara woestyn aangesluit het, om die dood van sy broer daar te kom wreek.

Sy verhaal begin waar ’n manskap van die Vreemdelegioen ’n aanval deur Arabiere in die woestyn oorleef. Hy praat van ’n wit vrou wat blykbaar die aanvoerder van die aanval op die Franse patrollie was.

Kolonel Le Clerq van fort Dini Salam besluit om dadelik iets daaraan te doen. Hy stuur toe sy getroue kaptein D’Arlan saam met tweehonderd man, waaronder Teuns en sy makkers val, om die sogenaamde wit heks se mag in die Atlasgebergte te gaan breek, voor sy te veel Franse bloed op haar hande het.

Baie gou beland die patrollie egter in ernstige moeilikheid. Hulle word vasgekeer deur die Doelaks in die woestyn, sonder ’n druppel water om te drink. Asof dit nie erg genoeg is nie, moet hulle later in ’n radioaktiewe Uraanmyn gaan werk. Af en toe word van die manne daar gestuur na die Berg van die Arende toe.

Gaan Teuns se vindingrykheid saam met D’Arlan wat beskou word as die Houdini van die woestyn, hulle uit die penarie red? Lees gerus die opwindende verhaal en vind self uit.

UITTREKSEL

Nog twee arende maak hul verskyning, duik laag oor die manne heen en een slaan met sy gevaarlike kloue ’n liederlike haal oor Jack Ritchie se nek. Hy skreeu kort en hard van die pyn. Die ander een slaan sy snawel diep in die wang van ’n ouerige Rus wat hard vloek. Hy wikkel sy skouers en probeer so sy bebloede gesig wegdraai van die berg arende se aanslag.
Hulle kom meer en meer, krassend, wiegend op hul groot suisende vlerke en elke keer wanneer hulle aanval, loop die bloed. Die manne gooi hul liggame agteroor en probeer na die gevaartes skop, maar dit vererger net hul woede.
Die manne beur en draai aan die boeie agter hul rûe, maar hulle gee gou op, want elke keer wanneer hulle dit doen, word hul polse net verder gesny deur die skerp kante van hierdie boeie.
“Ons gaan sterf, capitaine,” gil die ouerige Rus amper histeries en dan moet hy weer veg teen ’n skreeuende arend wat sy kloue op die stomme ou man se skouers en kop inlê.

                         1. HEKS VAN DIE SAHARA
Hoofstuk 1
’N VROU TE PERD
Manskap Podolski, van die Franse Vreemdelegioen, draai sy rug na die geniepsige woestynwind wat van die ver Atlasgebergte aangewaai kom en hy tuur opnuut na die Ooste om te sien of daar nog nie ’n teken van die rooidag is nie. Hy wens hy was nou liewer in die slaapsaal in Dini Salam waar hy hom darem onder die wolkombers sou kon toegemaak het. Dini Salam is ’n vlieënes en ’n bakoond van ’n plek, waar die Sahara son jou ongenadig skroei, maar dit is nogtans beter as hierdie eensaamheid in die woestyn wat jou bedags met sy hitte wil vernietig, en wat jou snags weer laat bibber van die koue.
Podolski wonder wat hom besiel het om vir die Russe kwaad te word. As hy nie vir hulle kwaad geword het omdat hulle sy vaderland, Pole, beset het nie, sou hy nou nie hier op hierdie godverlate sandduin in die koue wind moes wag gestaan het nie. Hier op sy eensame brandwagpos maak hy egter ’n gebaar met sy hande, ’n gebaar van aanvaarding. Want wat sal dit baat om hom nou hieroor te staan en verknies? Hy is in die Franse Vreemdelegioen en dit is die einde van alles. Die Franse Vreemdelegioen moet die Sahara en sy inwoners bewaak.
“Vervloekste Doelaks,” sug Podolski hardop. “As hulle dit nie in hul koppe gekry het om karavane aan te val nie, sou ek nie nou hier moes gestaan het nie. Hulle moet sommer die hele kaboedel vrek skiet, dan sal daar ’n einde aan hierdie bog wees,” sê Podolski bitter.
Hy voel die geringe prikkeling langs sy rug af en hy swaai vinnig in die rondte, tuur noukeurig in die donker rond of hy nie dalk ’n sluipende vyand gewaar nie. Dit is egter nog te donker om goed te kan sien. Daarom trek hy met sy lang Lebel geweer, waaraan hy die bajonet geheg het, ’n sirkel om hom op die grond. Dan swaai hy weer die vuurwapen vinnig in die rondte om hom.
Want hierdie Doelaks is erger as katte, geruisloos, feitlik onsigbaar wanneer die lig nie sterk is nie, en heeltemal dodelik. Podolski dink aan daardie gruwelike nag aan die voorheuwels van die Atlasberge, toe die sluipende Doelaks al die brandwagte van ’n regiment van die Legioen keel afgesny het, voordat hulle eers geweet het wat gaande is.
Maar manskap Podolski gewaar niks. Daar is net die dun gesing van die wind wat deur die petieterige kameelbossies waai en deur die ou woestyngraspolle, wat hier en daar op die kruin van die duin staan.
As dit net wil dag word, hunker dit hier binne Podolski. As ’n mens net eers kan sien. Hy kan nie verstaan waarom die bevelvoerder in Dini Salam nog nie ’n ordentlike ekspedisie mag teen hierdie Doelaks uitgestuur het nie. Hulle moes lankal uitgeroei gewees het.
Maar die weë van die grootkoppe in die Legioen is heeltemal duister. Al wat hulle doen, is om elke keer ’n klein geleide van die Legioenmanskappe saam met die kameel karavane te stuur om hulle te beskerm. ’n Hele paar karavane, met geleides en al, is al deur hierdie bloeddorstige Doelaks uitgeroei. Net verlede week nog.
Podolski se mymeringe word ineens afgebreek en hy word heeltemal koud daar waar hy staan, nog kouer as die aanraking van die voordag wind.
Kan dit ’n perd wees wat iewers gerunnik het?
Hy kan sweer hy het iets gehoor. Iets nie ver nie, miskien agter die volgende duin, wat nou soos ’n groot swart walvis uit die donker voor hom opgroei, want die dag skuiwe stadig agter die aarde uit.
Podolski haal die Lebel vinnig oor en hy doen dit stadig en geluidloos, soos hulle geleer is om dit te doen. Hy wonder meteens hoeveel ure hy al in die vreeslike son op die paradeterrein moes deurgebring het, net om te leer hoe om ’n Lebel geluidloos oor te haal.
Daar is net ’n baie geringe klikgeluid toe hy die slot oop en toe stoot. Hy staar dan met intense konsentrasie na die duin voor hom, na die donker kam daarvan. Dan draai hy weer stadig in die rondte en probeer die omgewing rondom hom bespied. Sy geoefende ore soek na die geringste geluide... Maar daar is net die suising van die wind en niks meer nie.
Dalk het hy hom maar verbeel dat hy iets gehoor het. Dalk is sy senuwees maar te gespanne.
As dit net wil dag word, helder dag, sodat ’n mens ’n vyand se oë kan sien!
Podolski het die sirkel voltooi en hy staar weer ooswaarts van waar die reddende lig van die dag moet kom.
En manskap Podolski, voorheen van die Poolse leër en tans gewone manskap in die Vreemdelegioen, verstyf meteens asof hy ’n skoot deur die hart gekry het.
Hy is nie meer bewus van die wind wat sing nie. Hy voel nie meer die Lebel in sy koue hande nie. Hy weet nie eens dat hy meer asemhaal nie.
Want daar voor hom op die kam van die rooi duin, swart teen die eerste dun gloed van die dag, is ’n ruiter. Swart soos ’n standbeeld. ’n Beweginglose silhoeët, dreigend en roerloos.
Podolski sluk swaar en roer met sy tong oor sy droë lippe.
“Doelak,” fluister hy in die wind en hy stik amper aan die woord, so droog is sy keel.
Hy kyk weer vinnig om hom heen met ’n woedende konsentrasie. Hy verbeel hom dat elke kameelbossie en elke graspol ’n vyand geword het, met die gevreesde steekdolk en die ewe gevreesde kromsabel in hul hande.
Toe Podolski weer ooswaarts kyk, sien hy nog ander. Soos donker skimme het hulle langs die eerste ruiter op die kam verskyn.
En hulle kom nog steeds, die een na die ander, totdat hulle op die kruin ingeryg staan.
Die Poolse manskap wag nie langer nie. Hy spring om en hy lê oop terug na die kamp toe, waar die klompie Legioenmanne om die kameel karavaan kring getrek het...
Hy haas hom gebukkend na die klein tentjie hier aan die een kant van die kamp. Daar is dit volkome stil in die laertjie. Almal slaap nog en een of twee snork so dat Podolski hom verbeel die Doelaks daar op die duin hoor hulle ook. Hier en daar sug ’n kameel tevrede.
Podolski vlieg die tentjie binne en gaan ruk die man wat op die kampbedjie lê en slaap, aan die skouers.
Sergeant, mon sergeant,” sê Podolski hygend. “Doelaks, op vierhonderd tree, ooswaarts.”
Die jong sersant Lazarre vlieg die angstige Poolse manskap amper onderstebo soos hy uit die bed uit spring.
“Hoeveel?” vra hy oorhaastig terwyl hy sy rewolwer se gordel opgryp en dit haastig aangespe.
“Goed ’n veertig, daar kan meer wees. Ek het nie gewag nie,” sê Podolski.
Mon Dieu!” sê Lazarre hardop, plak sy kepi op sy kop en vlieg by die tentjie uit.
“Maak die kêrels wakker,” beveel Lazarre vir Podolski, “maar moenie raas nie. Dalk het daardie spul heidene ons nog nie gewaar nie. Kan wees dat hulle by ons verby trek?” Maar terwyl hy hierdie woorde uitspreek, weet die jong sersant al dat hy ’n optimis is. Doelaks is van die beste spioene in die wêreld en dit sou bepaald ’n wonderwerk wees as hulle by ’n karavaan verby trek wat hier oop en bloot tussen twee duine lê.
Podolski spring onder die kêrels in en maak hulle wakker. Dit protesteer en kreun dat dit ’n naarheid is, maar hulle kom dadelik op die been en gryp hul Lebels. Lazarre self spring onder die Arabier smouse in en maak hulle stilletjies wakker. Kamele protesteer proestend en Lazarre voel of hy hul groot bekke met die kolf van sy rewolwer kan toe slaan.
Geluidloos word die kamp wakker en van die ander brandwagte kom nou ook aangehardloop.
“Maak kring!” gelas sersant Lazarre hees en nie te hard nie. Nommer solank.”
Kring maak is die enigste taktiek hier in die ope waar die klompie Legioenmanne deur die Arabiere in getalle, ver oortref gaan word.
Wanneer die manne kring getrek het, nommer hulle af. Dan word om die beurt deur die gelyke en ongelyke nommers gevuur sodat ’n ononderbroke vuur so op die aanvallers volgehou kan word. Op die manier kan party kêrels ook weer laai terwyl ander kêrels aanhou vuur.
Hierdie beproefde taktiek van die Vreemdelegioen ken hierdie klompie kêrels al so goed dat alles binne sekondes gereed is. Om die Arabiese smouse en hul pakdiere, staan die dun strepie manskappe op hul knieë, die Lebels oorgehaal in hul hande.
In die middel van die kring staan sersant Lazarre, sy swaar Luger-rewolwer gereed in sy regterhand, terwyl hy nog steeds aan die Arabiere bevele gee. Party stuur hy tussen die Legioenmanne in, waar hulle gaan stelling inneem met hul verouderde ou voorlaaiers. Andere beveel hy om die kamele aan mekaar vas te bind en hulle vas te hou.
Dit word vinnig lig, want hier in die Sahara kom die dag plotseling, net soos die nag. Daar is ’n helder rooi band in die Ooste en nou kan ’n mens darem al beter sien. Jy kan selfs kameelbossies teen die naaste duin uitken, waar hulle oomblikke gelede nog in die donker versluier was.
“Die ongelyke nommers sal eerste vuur,” gelas sersant Lazarre. “Dit sal snelvuur wees en elke skoot moet tel. Ons is vyftien en hulle is seker meer as vyftig. Ek sal een skoot met die rewolwer vuur, dit sal die teken wees vir die eerste sarsie. Mes amis, vanoggend moet julle skiet soos julle nog nooit in jul miserabele lewens geskiet het nie, anders sal die aasvoëls netnou hier tussen julle kom baljaar. Ek ken julle. Onthou, julle is manskappe van die Vreemdelegioen. Lank lewe Frankryk!”
Dit sing in Lazarre se kop. Hierdie is nie sy eerste skermutseling met die Doelaks nie. Hy ken hulle. Hy het al hul marteling gesien. Hy het al gesien hoe dat manne op die warm sand oopgespalk word, hoe dat hul naels verwyder word... hoe dat hul tonge gesplit word... hoe dat hul ooglede afgesny word...
Mes amis, ons moet oorwin,” sê hy en dit is ’n snaakse, dringende bevel en sy stem klink onvas. “Op hierdie mooi oggend mag ons nie verloor nie, julle weet wat ons wag.”
Mon sergeant,” sê Schmidt, ’n Duitser met ’n groot rooi gesig, en hy beduie met sy hand omhoog.
Lazarre kyk op en wat hy sien, vul hom met weersin en ook met vrees.
Hoog oor die duine draai die eerste aasvoëls, krassend en manhaftig, net asof hulle hulle reeds klaarmaak vir die uitslag van die geveg.
“Aasvoëls het goeie neuse,” sê Podolski, en die gelag gaan soos ’n rimpeling deur die klein kringetjie manskappe.
Lazarre sluit sy oë en hy is opnuut dankbaar oor die moed van hierdie woestynvegters, party van hulle uitvaagsels uit die strate van baie stede, party van hulle manne met ’n swaar leed in hul harte. Rampokkers, moordenaars en hulle wat onskuldig langs die weg geval het, maar almal dapperder as dapper, almal byna heeltemal sonder vrees.
“Daardie vervloekste kaalnekke klop aan die verkeerde deur,” sê Lazarre moedig en hy kyk weer na die draaiende voëls op.
“Waar skiet ’n mens ’n Doelak, mon sergeant?” vra iemand.
“Tussen die oë, mon ami,” sê die sersant grootman en hy speel met die sneller van sy rewolwer.
“Stilte!” sê Lazarre dan meteens.
Bo die suising van die wind hoor hulle dit, dit is die dreuning van baie hoewe op sand.
“Hier kom die heidene,” sê Levy, ’n Jood wat uit Tel Aviv gevlug het.
“Gewere gereed!” spat die bevel uit Lazarre se mond.
Bo die ruising van die wind is daar die een harde blik van staal op staal, soos die slotte van die Lebels vinnig oop en toe geskuif word.
Die klap van geweerslotte huiwer nog op die wind toe die eerste Arabiere in die Ooste op die naaste duin verskyn. Hul wit mantels bol en fladder in die wind en hulle sit so stewig in die rûe van hul perde, soos net die trotse Doelaks kan.
Mon sergeant,” fluister Peti, ’n maer Italianertjie skielik hier agter Lazarre. “Kyk daar!”
Die sersant swaai vinnig om en hy sien hoe dat ’n hele streep Arabiere so pas agter hulle op die kruin van ’n ander duin verskyn het.
’n Koue siddering gaan deur die Fransman. Hy voel daardie verbasende magteloosheid wat ’n mens voel wanneer jy weet dat jy verlore is. In hierdie klein sekondes tussen hom en die dood probeer hy naarstigtelik ’n uitweg soek om te oorleef, maar hy kry niks nie. Hy staar net vreesbevange na die vae glinstering van die eerste lig op die kromsabels van die Arabiere, die dun staallemme wat trots omhoog gehou word.
Maar hy het nie veel tyd vir vrees nie. Daar is nog ’n paar vreeslike oomblikke waarin hy kan dapper wees.
Mes legionnaires, gereed!” bulder Lazarre en haal vinnig sy rewolwer oor.
Die volgende oomblik kom meer as tweehonderd Arabiere donderend van die duine af gejaag op die klein kringetjie manne, wat hul vingers bewend aan die snellers het.
Lazarre wag tot hulle op honderd treë is. Toe praat sy groot Luger en die heel voorste Arabier van die groep wat van die weste af storm, val skreeuend uit die saal.
Oombliklik na Lazarre se eerste rewolwer skoot, praat die Lebels om hom. Elke skoot tel. Maar daar is net nie genoeg skote nie.
Die Doelaks is ’n vloedgolf wat hierdie kringetjie manne nie kan keer nie.
Met die heel eerste stormloop jaag hulle die klein kamp onder stof.
“Bajonette!” skreeu Lazarre en hy skiet drie Arabiere, die een na die ander uit die saal.
Die volgende oomblik is dit bajonet teen kromsabel. Dit is ’n bloedige worsteling van vegtende manne, runnikende perde, stoeiende kamele en babbelende smouse wat hul teenstanders met geweerkolwe uit die saals probeer slaan.
Dit is ’n kortstondige en aaklige slagting.
Net toe die son stadig oor die duine uitklim, stryk die eerste aasvoël hier by sersant Lazarre van die Vreemdelegioen neer, wat met sy hande slap in die sand lê.
Hier en daar fladder die wit val agter die kepi van ’n Legioensoldaat in die ligte môre luggie. Hier en daar roer die wind die wit mantel van ’n gevalle Arabier.
En omheen skitter die eerste hitte op die stil duine.
*          *          *
Al is dit al laat namiddag, lê die hitte nog soos ’n verterende vlaag oor die Sahara. Die duine dans en skitter in die hittegolwe en dit voel of die son nog vir oulaas wil wraak pleeg op alles wat in hierdie sandwoesteny asemhaal.
Kolonel Le Clerq, die klein blas Fransmannetjie wat bevel voer oor die garnisoen van die Vreemdelegioen in Dini Salam, een van die buiteposte van Frankryk in hierdie troebele gebied, waai hom met sy militêre pet koud waar hy hier agter sy lessenaar sit. Hy kyk waterpas na kaptein D’Arlan wat nou net eksieperfeksie gesalueer het.
“Sit, D’Arlan,” sê die kolonel en beduie moeg met sy maer hand na die een stoel voor sy lessenaar.
D’Arlan, ’n smal, donker stryder van die woestyn wat soveel bloedige skermutselinge met die Arabiere al so op ’n haar oorleef het, gaan sit stadig en lê sy kort offisierstaf op die glimmende lessenaar neer.
“Enige nuus van Lazarre en die karavaan?” vra Le Clerq met sy dun stemmetjie wat so reg by sy klein, gespanne liggaam pas.
“Ek het dan gesê hulle moet tyding stuur.”
“Nog geen taal of tyding nie, mon colonel,” antwoord D’Arlan en klap na ’n vlieg wat darem te manhaftig geword het.
“Ek is bevrees ons het kontak met hulle verloor,” sê D’Arlan.
“Kontak verloor?” sê Le Clerq driftig en sy klein ogies vonkel dreigend. “Mon Dieu, maar dan is daar fout, D’Arlan!”
“Ek is bevrees so, mon colonel.”
Le Clerq plak sy pet op die lessenaar neer. D’Arlan, daar moet ’n einde kom aan hierdie strooptogte van die Doelaks. Dit het nou ernstige afmetings aangeneem en dit kan my hele reputasie as bevelvoerder van hierdie garnisoen ruïneer.”
“Dit het ons al baie skade aangedoen, mon colonel,” sê D’Arlan en werskaf bietjie senuweeagtig met sy hande. “Voorrade in Dini Salam het ’n laagtepunt bereik as gevolg van die aanvalle op karavane. Daar is haas geen koffie, suiker en meel meer nie en handelaars in kledingstowwe is woedend omdat hulle in die afgelope weke geen voorrade meer gekry het nie. Nie alleen is talle karavane al uitgeroei nie, maar handelaars langs die kus wil nie meer konvooie deurbring na Dini Salam nie. Die Arabiere fluister al openlik dat die Legioen nie in staat is om hulle te beskerm nie.”
“In godsnaam, wat moet ek aanvang, D’Arlan? Ek kan dit nie waag om ’n ekspedisie mag teen die Doelaks uit te stuur, as al die stamme in die omgewing rusteloos is nie. Dit sou dwaasheid wees. Ek kan nie Dini Salam kaal stroop om ’n strafekspedisie teen hierdie ellendige Doelaks te organiseer nie.”
“Ons verkeer in ’n gevaarlike dilemma, mon colonel,” sê D’Arlan. “Die stamme is onrustig en moeilikheid kan verwag word, soos u sê. Aan die anderkant kan ons nie toesien dat die een karavaan na die ander uitgeroei word nie, en dit tesame met groepe Legioenmanne wat ons kwalik kan mis.”
“As ek net meer manne gehad het,” sug Le Clerq en vee oor sy voorkop.
“Wat sê Algiers oor die versterkings wat u gevra het?”
Le Clerq wat oud geword het in die teistering van die Sahara hitte, skud sy kop net stadig. “Te veel ander verpligtings. Die ou storie... hulle kan nie meer manskappe vir Dini Salam afstaan nie.”
“Maar hoe meen hulle?”
D’Arlan kom nie verder nie, want daar word dringend op die deur geklop.
Entrez!” roep Le Clerq.
Die volgende oomblik staan ’n lang, lenige man met vonkelende blou oë en ’n atletiese liggaam op aandag voor Le Clerq. Dit is manskap Teuns Stegmann, die Suid-Afrikaner in die Vreemdelegioen.
“Ja, manskap Stegmann?” blaf Le Clerq en hy staar na die jongman van wie se besondere dapperheid hy al so dikwels gehoor het.
Mon colonel,” sê Teuns vinnig, “die... die afdeling onder sersant Lazarre is heeltemal uitgewis.”
“Wat!” roep Le Clerq uit en spring uit sy stoel op.
“Die Doelaks, mon colonel.”
“Waar kom die nuus vandaan?” vra Le Clerq.
“Daar is net een oorlewende, mon colonel, manskap Podolski.”
“Waar is hy?”
“Hy wag hier buite, mon officier,” antwoord Teuns.
“Bring hom onmiddellik in!” klap die harde bevel uit kolonel Le Clerq.
Teuns en die groot Duitser, Fritz Mundt, bring vir Podolski binne. Hy hang tussen hulle, want hy kan nie loop nie. Sy kop lê ver vooroor, sy uniform is aan flarde en sy klere is gekoek van droë bloed.
Sowel Le Clerq as D’Arlan hyg na hul asems toe hulle die gehawende man sien.
“Laat hom in die stoel sit,” beveel Le Clerq en dan beduie hy vir Teuns en Fritz om eers uit te gaan.
“Goeie hemel!” fluister Le Clerq en hy staar verbysterd na die stomme man hier voor hom. Podolski wend ’n flou poging aan om te salueer, maar die kolonel beduie dat hy dit moet laat.
“Gee vir hom bietjie konjak, D’Arlan,” gebied Le Clerq en kom dadelik na die gewonde Podolski toe. “Waar is jy gewond, legionnaire?” verneem die kolonel en toe die Pool na sy linkerskouer beduie, skeur die kolonel die mondering daar weg en ondersoek die wond. Dit is ’n lelike wond, maar dit lyk vir hom bloot soos ’n vleeswond.
“Kan jy praat, mon legionnaire?” vra die kolonel.
Podolski se tong roer stadig en pynlik in sy geswolle mond en hy prewel. “Ek sal probeer praat, mon colonel.”
Hulle laat hom eers van die sterk konjak drink en dan sê Le Clerq. “Ek luister, mon legionnaire.”
Podolski sak agteroor in die stoel, hy sluit sy oë en sy gesig vertrek van die pyn in sy skouer. “’n Dag of drie gelede,” sê hy sag en hees, “het ons saam met die karavaan ver duskant die oase El Soer gekampeer. Net toe dit dag word, het hulle ons daar oorval. Daar was seker goed tweehonderd van hulle. Daar was vir ons geen kans nie. Almal het gesterf, behalwe ek, en drie ander. Sersant Lazarre het ook geval.”
Hy swyg dan en maak sy oë wyd oop soos iemand wat uit ’n nagmerrie wakker wond. Sy regterhand beweeg weer na sy skouer.
D’Arlan hou weer die glas konjak voor Podolski se mond en hy drink gulsig die laaste vog weg.
“Waar is die ander drie oorlewendes, mon legionnaire?” vra kolonel Le Clerq en sy stem is sag en simpatiek.
’n Kort snak, byna soos ’n snik, spring uit die geteisterde Pool. “Ek... ek sal u nog vertel, mon colonel.”
“Vertel maar die verhaal net soos jy goed dink,” moedig Le Clerq aan en leun verwagtend vooroor op die lessenaar. “D’Arlan, nog konjak vir die kêrel.”
’n Kameel het half op my en ’n sterwende Arabier geval,” praat Podolski verder. “Die Arabier se bloed het oor my gespring en ek was in die skouer gewond. Hulle het na gewondes gesoek, maar hulle het my net so gelos. Hulle het gemeen ek is dood. Hulle het drie gewondes gevind, Karnak, Cunningham en Tovash... Hulle het hulle drie saam weg geneem. Hulle het al die goedere ook saam geneem, ook al die wapens en die kamele. Ek het meer as ’n uur daar gelê. Toe het ek onder die kameel uitgekruip en koers gevat hierheen. My waterkannetjie het onder my in geval en dit was byna nog vol. Eergister het ek gelukkig op ’n karavaan afgekom, wat my hierheen gebring het.”
D’Arlan bring nog konjak en Podolski drink dit met lang, hygende teue uit.
Podolski praat nie nou nie. Die enigste geluid in die bedompige stilte van Clerq se kantoor, is die stadige getik-tak van die muurhorlosie langs die deur.
Eindelik sê Le Clerq. “Jou verhaal is nie klaar nie, mon legionnaire.”
Dit is of daar ’n siddering deur Podolski gaan. Hy sug een maal diep en die trane maak ’n blink streep in sy half geslote oë.
“Eergister oggend het ek op hulle afgekom.”
“Op wie afgekom?” vra D’Arlan bemoedigend.
Podolski se hele liggaam tril en hy druk sy hande voor sy oë. Sy kop het vooroor geval sodat die hare strepe oor sy gesig maak en hy swaai sy kop stadig, net soos iemand wat worstel met iets wat hy nie mag sê nie.
“Ek kan nie!” skreeu hy meteens half histeries. “Ek kan dit nie vertel nie! Dit is ontsettend!”
D’Arlan lê sy hand bemoedigend op die man se skouer en sê. “Ons moet die hele verhaal hoor, mon legionnaire. Die hele verhaal.”
Podolski snik een maal hard, met ’n ruk, en dan sê hy. “Hulle was so vermink, mon colonel.”
Le Clerq beduie vir D’Arlan en die kaptein gaan skink nog konjak.
“Hulle was so vreeslik vermink,” sê Podolski en hy huil saggies soos ’n kind.
“Hoe was hulle vermink?” fluister Le Clerq en hy voel hoe die woede soos ’n warm vlaag in hom begin opgroei.
Podolski boor met sy vuiste in sy oogkaste en dan kyk hy stadig na Le Clerq op. Hy sien die ontsteltenis en die simpatie op die bejaarde offisier se gesig.
“Hulle, hulle was op drie perde vasgemaak,” fluister Podolski asof hy hierdie bitter verhaal met eerbied wil vertel.
“Op perde vasgemaak?” vra Le Clerq fronsend.
Die Pool knik. “Blykbaar het hulle hulle eers vermink en hulle toe op die perde vasgemaak. Hulle het toe die perde hierna toe gedryf, seker sodat die garnisoen kon sien hoe die Doelaks kan martel. Toe ek die perde kry, was hulle so goed soos dood. Hulle het nie meer geloop nie, hulle het net daar bly staan. Ek het hulle hierheen probeer aanjaag, maar hulle wou nie loop nie. Hulle het die een na die ander gaan lê voordat ek daar weg is.”
“En die manne?” fluister D’Arlan hees en kom sit hier by Podolski op die lessenaar se kant.
Podolski se strot beweeg soos hy sluk. Hy vat aan sy gesig en dan klem hy die leuning van die stoel met sy bewende hande vas. “Die manne,” fluister hy sugtend, “se ooglede was weg gesny.”
Le Clerq ruk vinnig in sy stoel agteroor en kyk by die venster uit. Die spiere roer krampagtig op sy kake. D’Arlan se hande ruk en hy vryf vinnig oor sy beswete nek.
“Hul ore was ook afgesny en hul lippe.”
Die Pool kyk pleitend na Le Clerq.
“Ek kan nie verder vertel nie,” sê die Pool sidderend en val met sy gesig op sy arms op die lessenaar.
“Genoeg, mon legionnaire,” sê Le Clerq, staan vinnig op en gaan skink vir hom en D’Arlan ’n glasie konjak daar by die legger kas.
Dan kom die bevelvoerende offisier terug en kom sit weer in sy stoel. “Jy is ’n dapper man, mon legionnaire,” sê hy vir Podolski. Jy het ’n groot daad gedoen. Ek bedank jou namens die Vreemdelegioen. Jy het ook veel gely. Jy kan nou eers gaan rus. Ek sal die geneesheer vra om jou onmiddellik te versorg. Jy kan nou gaan.”
D’Arlan kom nader en neem Podolski aan die arm om hom te help, maar die Pool kyk stadig op en hy staar asof onder hipnose na Le Clerq. Hy trek sy arm uit D’Arlan se hand.
“Is daar nog iets, mon legionnaire?” verneem Le Clerq ongemaklik onder die aanstaring van Podolski.
“Daar is nog iets, mon colonel. Dit is so vreemd dat ek dit amper vergeet het.” Die kolonel trek sy kop skeef en kyk vraend na die manskap hier voor hom. “En wat is dit, manskap Podolski?”
Mon colonel,” sê Podolski stadig, met ’n snaakse afgetrokke uitdrukking in sy oë, “daardie Arabiere is deur ’n vrou gelei.”
Le Clerq se hand ruk so dat hy van die konjak oor sy kneukels uitstort.
“’n Vrou? Kom, kom nou, mon legionnaire.”
D’Arlan staan regop soos ’n kers en die are staan groot en blinkend op sy voorkop uit.
“’n Vrou, mon colonel, ’n wit vrou,” sê Podolski.
“Maar, maar,” pleit D’Arlan en die ongeloof en verbystering lê duidelik in sy woorde.
“’n Wit vrou, mon officier,” hou Podolski vol. “Net so seker as wat ek leef...” D’Arlan en Le Clerq staar na mekaar en dan kyk hulle weer na die stomme Pool wat daar sit.
“Dit is tog onmoontlik!” bars die kolonel uit en maak met sy hande ’n magtelose gebaar.
“Ek het haar met my eie oë gesien,” sê die Pool beslis en leun vooroor. “Toe hulle na die gewondes kom soek het en die buit bymekaar gemaak het, het ek gehoor dat ’n vrou die bevele gee. Ek het geloer en haar gesien. Die kopstuk van haar rymantel was agteroor gestoot en ek het haar gesig gesien... sy is blank, met donkerblou oë en blonde hare.”
D’Arlan lag kortaf en skud sy kop asof hy uit ’n droom probeer wakker word. “Legionnaire Podolski, jy sien seer sekerlik gesigte en jy droom drome.”
Le Clerq beduie met sy hand vir die kaptein om te swyg.
“Toe hulle vort ry, het ek goed gekyk, mon officier,” gaan die Pool hees voort. “Haar blonde hare het in die son geskitter en sy het beslis die Arabiere weg gelei. Sy ry ’n appelblouskimmel hings, die grootste en mooiste perd wat ek nog gesien het... Voor die gode, ek praat die waarheid...” en hy steek sy hand in die lug op asof hy wil sweer.
Le Clerq slaan sy konjak met een teug weg en D’Arlan gaan staan kopskuddend voor die venster en staar uit na die hitte duiwels wat op die ver sandbulte bibber en dans.

SAHARA AVONTUUR REEKS BOEKE

1. Heks van die Sahara
2. Spore na die Dood
3. Die Skarlaken Ruiters
4. Wraak van die Woestyn
5. Die Fort is Stil
6. Dood met Sonop
7. Dreunende Hoewe
8. Bloed voor die Son
9. Die Spore Roep
10. Mademoiselle Julie
11. Wraak van die Sabel
12. Bloedige Robyne
13. Bloed oor die Duine
14. Duine van die Dood
15. Dreigende Daeraad
16. Bouvalle van die Dood
17. Gaste van die Dood
18. Bitter die Wraak
19. Vlamme in die Tempel
20. Dodelike Sluipers
21. Strik van die Dood
22. Nag van Geweld
23. Bloed oor die Bouvalle
24. Spelonk van Verskrikking
25. Skaduwee van Gister
26. Storm oor Dini-Salam
27. Die Skatte van Marabash
28. Wraak in die Woestynvesting
29. Stille Dood oor die Sahara
30. Die Verraaier van Dini-Salam
31. Graf in die Woestyn
32. Vlamme in die Woestyn
33. Noodroep uit die Woestyn
34. Spore van Verraad
35. Die Raaisel van Aber-El-Mir
36. ’n Teken in die Nag
37. Die Swaard van Verwoesting
38. Vuurpeleton lê Aan
39. Die Bloedbad van Goras
40. Die Geheim van Fort Laval

Geagte Leser

Die betrokke Sahara Avontuur reeks word voortaan hoofsaaklik vrygestel in e-boek formaat, op Amazon Kindle. Beperkte boek formaat is egter ook beskikbaar en kan dit slegs bestel word deur onderstaande e-pos adresse te kontak.

Die volledige reeks van veertig boeke wat deur F.A. Venter, onder die skuilnaam van Meiring Fouche geskryf is, gaan met verloop van tyd verskyn in e-boek en boek formaat.

Met die uitgee van die boeke is van die teks sodanig verander, om aan te pas by vandag se taal en kultuur. Waar nodig is van die teks ook op plekke verander om dit makliker leesbaar en meer kragtig te maak. In die proses is egter geensins aan die karakter en/of storielyn van die oorspronklike boeke verander nie.

Die Sahara Avontuur reeks is so ver vasgestel kon word, die eerste maal gedurende 1956-1963 vrygestel deur Pronk uitgewers en toe daarna weer in die 1980’s deur Sirkel uitgewers. Hierdie uitgawes in e-boek en boek formaat sal dus die derde uitgawe van die gegewe reeks wees.

Om van die boekies in die hande te kry kontak gerus een van die volgende twee persone:

Mnr. Pieter Haasbroek by haasbroek.pieter@gmail.com
Webwerf: www.softcoverbooks.co.za
Blogger: sagtebandleesboeke.blogspot.com
Mnr. Henoch Neethling by jhneethling@talk21.com